Gjør som tusenvis av andre bokelskere
Abonner på vårt nyhetsbrev og få rabatter og inspirasjon til din neste leseopplevelse.
Ved å abonnere godtar du vår personvernerklæring.Du kan når som helst melde deg av våre nyhetsbrev.
Aurora en Kenza, twee boesemvriendinne, gaan toer deur Europa na voltooiing van hulle universiteitsopleiding. Daarna doen Aurora haar klerkskap as Forensiese Ouditeur. Nog altyd 'n uitblinker en harde werker, slaag sy ook dit met onderskeiding. Opgewonde en gereed om haar droom te leef. Die noodlot het egter ander planne vir hierdie baie getroue kind van God. Sy word ontvoer en sy veg verbete om te bly leef ... Sal sy die grusame verkragting en aanslag op haar lewe oorleef? Dit is hierdie nag wat haar paaie met dié van Braxton Moore, 'n jongman van Queenstown, kruis. Hierdie nag verander sy lewe soos handomkeer ... Hy, 'n man wat tot nou toe 'n lewe van partytjies, vroumense en drank geleef het, kom tot die besef dat daar baie meer in die lewe is.'n Storie oor die gruwels van ons samelewing en God se groot genade vir mense. 'n Paar jongmense wie 'n afspraak met die toekoms gehad het, daardie nag op Spencerville Weg! 'n Afspraak waarvan die nagevolge soos die rimpels op 'n dam gaan bly uitkring en groter en groter raak. Wat is God se plan met hulle?
Dokter Constant Jentz, 'n pas afgestudeerde dokter van Duitsland, gaan doen sy hospitaaljaar en die res van sy praktiese opleiding in Londen.Hy raak bevriend met 'n gesellin en hulle vriendskap groei na 'n mooi platoniese vriendskap. Nadat hy 'n dokterskongres vir 'n week bygewoon het, vind hy uit dat sy net verdwyn het. Hy word gearresteer vir die moord op Lily. Gelukkig is daar 'n ooggetuie wat kaptein Ferguson kontak en sy getuienis laat besef hulle dat Constant nie hulle man is nie. Constant raak een van die hoofspelers in die ondersoek na een moord wat later vyf moorde word. Die motief word duidelik wanneer van die meisies se liggaamsdele gevind word; hulle is vir hul organe vermoor. Kaptein Ferguson en sy span spook en stoei, maar die moordenaar is uitgeslape en het geen leidrade agtergelaat nie. Dit word dokter Jentz se grootste doelwit om hierdie monster vas te trek. Dalton Coetzee, 'n jong dokter van Suid-Afrika, kom doen haar hospitaaljaar by dieselfde hospitaal waar Constant in die Chirurgie Afdeling met pasiënte werk wat vir organe wag. As kaptein Ferguson by Constant hoor wie Dalton se ouers is, neem die saak 'n heel ander wending. Word die reeksmoordenaar gevind? Wat het Dalton se ouers met die saak te doen? Die kan wurms wat hulle oopmaak is op die einde baie groter as wat hulle ooit kon verwag.
Keara Holm, word op die plaas Goedgeluk, naby Bitterfontein in die Namakwaland groot in die vyftigerjare. Werk is daar nie vir alle skoolverlaters in die omgewing nie. Sy word gedwing om as naïewe en onskuldige plaaskind, wat niks van die dinge van die lewe weet nie, in Kaapstad te gaan werk. Hier maak sy binne die eerste jaar kennis met die harde feite van die lewe, wat haar jong lewe radikaal gaan verander. Met geen ondersteuningsnetwerk, eerstens omdat haar familie so ver is, en tweedens omdat jongmense nie toegelaat is om oor die dinge met hul ouers te praat nie, ontaard haar hart in 'n slagveld, waar sy alleen die seer en verwoesting moet verwerk. Sy land saam met haar man in die oorloggeteisterde Suidwes-Afrika, in Oshakati. Hier moet sy probeer oorleef met 'n man wat 'n alkoholis en skisofreen is, en haar seuntjie probeer beskerm. Dit is 'n wenresep vir net nog meer oorlog en nog meer lyke in haar lewe waarmee sy alleen moet deel.Die lewe en die liefde doen haar geen gunste nie. Haar enigste anker deur die oorloë waarmee haar lewe telkens geteister sal word, is haar geloof in haar God. Wat word van Keara Holm? Kry sy ooit weer die geleentheid om terug te gaan na haar geliefde Namakwaland en Goedgeluk? Bly haar lewe 'n slagveld, of wen sy op die einde die oorlog?
Soos jy lewe, so sal jy sterwe... Eduard en Engelhard Dijkstra is 'n identiese tweeling wat so identies is, selfs al woon hul in verskillende dorpe, dieselfde aantrek. Daar is net een verskil - Eduard is 'n geharde dwelmbaas al vanaf 'n baie jong ouderdom, en Engelhard is 'n gesins- en besigheidsman. Vir Engelhard en sy vrou Bea, word daar ook tweelingseuns gebore, glad nie identies nie. Kort na hul geboorte kuier Eduard by Engelhard en hulle gaan daagliks na Engelhard se drie Boerejongens koffiewinkels. Dit is voor een van hierdie koffiewinkels waar een van die tweelingbroers vermoor word. Dit is definitief Eduard, want die dwelmbase het moeg daarvan geraak dat hy hul besigheid oorneem in die strate van byna elke groot stad in Nederland. Die tweelingseuns van Engelhard en Bea erf alles van hulle oom Eduard. Spoedig is hulle groot manne. Pascal lyk nie net soos sy oom nie, hy is ook net so 'n goeie besigheidsman. Albert aan die ander kant, is 'n begaafde Tjellis. Net voor die manne skool verlaat om universiteit toe te gaan, begin Engelhard vir Pascal alles van besigheid in die praktyk leer, hy moedig hom ook aan om in die cannabis-handel in te gaan. Na 'n baie traumatiese gebeurtenis in Pascal se lewe, spits hy hom toe op baie meer as die cannabis-handel en raak gou 'n gehate teenstander in die onderwêreld. Daar is net een probleem, hulle kry hom nie in die hande om hom te elimineer nie. Die familie word geskud deur 'n paar ontdekkings uit die verlede. Sal hulle dit deurstaan? Sal Pascal dit regkry om sy oom se dood te wreek en self lewend daar uit te kom?
Hierdie boek is baseer op 'n ware verhaal, die name van plekke en mense is nie die ware name nie, om die vrou, wie se verhaal dit is, te beskerm. Hierdie verhaal is met haar toestemming omskryf in fiksie, omdat baie van die karakters in die verhaal steeds lewe. Daar is soveel vroue wat deur dieselfde hel as sy gegaan het en gaan en ek glo sal kan baat vind by hierdie boek. ...Imelda Schenk word op die plaas Goedgevonden, in die Gochas distrik vroeg in die vyftiger jare gebore. Sy is haar ouers, Armin en Beth, se tweede dogter. Na haar word daar nog 'n dogtertjie gebore. Beth se moeder raak siek en sy moet dringend na haar gaan en haar babadogtertjie op die plaas agterlaat by haar skoonsuster. Terwyl sy weg is sterf baba Helga aan masels. Dit is hier waar dinge in die Schenk-familie se lewens drasties verkeerd gaan, maar veral vir klein Imelda wat nou net so oor die drie jaar oud is. As gevolg van verskriklike trauma wat sy opdoen, is haar skoolloopbaan 'n hel wat sy net om wens. Sy sukkel om te leer, die stemme in haar kop wil haar mal maak, en sy word geteister deur verskriklike drome. Sy dink sy het die monster van haar verlede agtergelaat, wanneer net nog verskriklike dinge met haar gebeur deur haar matriekjaar. Wanneer sy gaan studeer in Wellington, glo sy haar lewe en geluk het gedraai wanneer sy met die eerste oogopslag verlief raak op 'n mede-Suidwester en haar kamermaat se neef. Min het sy besef dit is net die begin van nog baie hartseer, verraad en verwerping in haar lewe. Wat gaan van Imelda Schenk word? Gaan sy ooit geluk en vrede vind? Of gaan die monsters van die verlede haar insluk?
Ashton Wilson, 'n baie suksesvolle Projekbestuurder, woon saam met sy vrou Deandra, sy tienjarige seun Brent, en sy sesjarige dogtertjie Cami, in die vooraanstaande Marine Estate in San Diego, Verenigde State. Deandra werk net halfdag by Blanca, Claassen en Stone, en namiddae is sy by haar kinders. 'n Baie gelukkige familie, met 'n baie hoë lewenstandaard. Een wintersdag raak Ashton skielik ongesteld en laat sy vrou weet hy gaan dringend hospitaal toe. Sy oortuig hom om saam met hom te gaan, maar wanneer sy tuiskom is hy nie daar soos afgespreek nie. Elf jaar na hulle troue verdwyn Ashton Wilson net spoorloos en los haar met al die finansiële las vir sy hoë leefstyl. Oornag sit Deandra nie net met die skuldlas nie, maar ook twee klein kindertjies aan wie sy moet probeer verduidelik wat van hul vader geword het. Die speurders verdink haar daarvan dat sy kop in een mus is met haar man, en hulle so die skuldlas wil probeer ontglip. By al die emosionele spanning met haar man se verdwyning, kom sy nog agter dat sy agtervolg word en vind later 'n afluisterapparaat in haar huis. Sy bedank haar werk en verhuis na haar ouers in Arizona om haar kinders te beveilig. Hierdie is net die begin van Deandra Wilson se hel. Word haar man ooit gevind, lewend of dood? Hoe hanteer haar kinders hul vader se verdwyning? Sal Deandra Wilson ooit antwoorde kry op die duisende vrae wat sy en haar kinders het?
'n Roman vol intriges. Zora Serrano en Alba Romero is jare lange vriendinne wat saam groot geword het. Saam het hulle mekaar bygestaan deur die swaar en seer van die lewe. Nou is hulle albei suksesvolle besigheidsvroue. Zora met 'n dogter, Mira, wat 'n briljante violiste is. Alba met 'n dogter wat 'n talentvolle danser is. Net soos hulle twee, verskil die persoonlikhede van hierdie twee meisies hemelsbreed. Steeds is hulle soos hul moeders, beste vriendinne. Alhoewel Mira die gehoorsame, beginselvaste een van die twee meisies is, vrywaar dit haar nie van teleurstelling, verraad en die klappe wat die lewe uitdeel nie. Die wilde Ayala, dans en geniet net haar lewe, al is hulle net sewentien. Hul albei se lewens word deur 'n jongman drasties verander. So drasties dat dit nie net vir hulle raak nie, maar ook hul moeders in 'n manier wat niemand ooit sou kon voorsien nie. Gelukkig vir Zora, ontmoet sy deur haar besigheid as eiendomsagent 'n man, Tristan Moreno, wat haar beste vriend raak. Wat lê alles tussen Mira en haar sukses as violiste? Sal sy ooit haar droom kan verwesentlik? 'n Droom om gehore regoor die wêreld te betower met haar pragtige vioolmusiek? Of word dit van haar weggeruk, voor sy nog die kans gekry het?
Dokter Kiara Walker, kliniese sielkundige, word deur haar vader, dokter Taylor Walker, bekende plastiese chirurg, aan die aantreklike senator Liam Moore voorgestel. Die jong senator word dadelik aangetrek deur die afsydigheid van Kiara Walker. Hy is daaraan gewoond dat vroue altyd oor hul voete val vir sy aandag, maar Kiara behandel hom koel en afsydig. Sy laat hom vanuit die staanspoor verstaan dat sy glad nie beïndruk is met sy titel, die politiek of die alewige media aandag wat mense soos hy geniet nie. Liam Moore verander oornag sy taktiek, want buiten dat sy 'n baie mooi jongvrou is en goed aan sy sy gaan lyk, pas sy perfek in by sy politieke ambisies. Binne 'n jaar raak hulle verloof en trou. Dit is dan wanneer die poppe begin dans. Dokter Kiara Walker Moore verloor nie net albei haar ouers in 'n ongeluk nie, maar raak self vermis in die Chugach woud in Alaska. Word sy ooit gevind? Word die blik wurms wat haar lewe so drasties verander het ooit oopgemaak en ontrafel?
Suleika, word gebore as die dogter van 'n Arabiese diktator vader en moeder, wat as vrou byna geen bestaansreg in Jemen, Saudi Arabië het nie. In haar tienerjare het sy dikwels verskille met haar vader oor die onderdrukking van vroue in hulle land. As gevolg daarvan word sy deur haar vader en ouer broer dikwels opgesluit en liggaamlik mishandel. Haar enigste ondersteuning is haar vriendin Amirah Hussein. Die twee meisies is baie naby aanmekaar en Amirah se ouers is bekeerde Christene wat ondergronds aanbid en hulle seun Nadir, en dogter Amirah, gelowig grootmaak. Wanneer sy aan die einde van haar matriekjaar haar vader nader en by hom pleit dat hy haar moet toelaat om te gaan studeer vir onderwyseres, wil hy niks daarvan weet nie, en haal haar ambisies haar net 'n hele klomp moeilikheid op die hals. Hassan Al Yousuf gaan selfs so ver om sy dogter met die dood te dreig. Met die hulp van Nadir en Amirah, kry sy dit reg om te ontsnap uit aanhouding nadat sy erg aangerand is deur haar broer, Omar. Sy vlug na Engeland, om daar 'n nuwe lewe te begin, want in haar eie land, is nie eers haar eie moeder bereid om vir haar op te staan nie, uit vrees vir Hassan Al Yousuf. Hier begin sy 'n nuwe lewe met die hulp van Nadir en al sy kontakte wat hy het, wat haar help. Steeds was dit net die begin van die hel waardeur hierdie beeldskone jongvrou nog in haar lewe sou moes gaan. Vind sy ooit vrede, word haar drome ooit waar, of vind haar familie haar voor sy nog kans kry om te lewe?
Abonner på vårt nyhetsbrev og få rabatter og inspirasjon til din neste leseopplevelse.
Ved å abonnere godtar du vår personvernerklæring.